Gepubliseer in Akademies

Ons boek word amper vrygestel.

Iewers verlede jaar trek ‘n versoek vir voorstelle vir ‘n hoofstuk in ‘n internasionale boek my aandag op LinkedIn. Dit was so in my belangstellingsveld, maar die sluitingsdatum was reeds verby. Ek besluit toe om tog maar die redakteur te kontak om te hoor of ek steeds kan instuur. En sy antwoord beslis, sy wou die voorstel gister gehad het.

En so begin die proses om ‘n hoofstuk vir ‘n boek te skryf. In Engels. Saam met baie ander skrywers. Oor die aanstelbaarheid van afstuderende studente.

Interessant dat dit soort van verband gehou het met die eerste artikel wat ek geskryf het nadat ek my meestersgraad voltooi het. Saam met doktor Hendrien Freeman, wat saam met my by Vista Universiteit klasgegee het. In 1994. Daardie navorsing het met haar doktorale navorsing verband gehou. Opvoeding en werk het gefokus op die noodsaaklikheid dat kinders vir werk gereed gemaak moet word gedurende hulle skooljare omdat dit nie ‘n feit is dat alle kinders verder sal kan studeer nie, maar ook veral omdat dit noodsaaklik is om mense op te lei wat entrepeneurs kan word die dag wat hulle die skool verlaat.

Hierdie hoofstuk is op my eie navorsing gebaseer. Toe ek vir ‘n jaar lank gratis die onderrig van ‘n nagraadse klas by Unisa oorgeneem het nadat hulle dosent oorlede is. En die stelsel met die aanstel van ‘n nuwe dosent gesloer het.

Dit het baie van my tyd in beslag geneem. Terwyl ek my nadoktorale studies gedoen het. Ek het my byna dood gewerk om al die balle in die lug te hou.

Maar, dit het toe tog vrugte afgewerp, ek kon al vele artikels daaroor skryf en die navorsing met ryk data beskryf.

Die studente was die eerste groep wat nie meer ‘n finale eksamen geskryf het nie, maar e-portefeuljes moes indien. Dit het die geleentheid gebied om hulle kennis te toets, maar hulle ook geleentheid geskep om hulle in staat te stel om e-portefeuljes te bou wat hulle vaardighede en tegnieke in die gebruik van multimedia en tegnologie in tersiêre klaskamers te demonstreer.

In hierdie hoofstuk vertel ek dan hoe die studente die e-portefeuljes wat hulle gebou het kon gebruik om hulle aanstelbaarheid aan potensiële werkgewers te demonstreer.

Die boek sal in Oktober of November vanjaar op die rakke wees, die inligting daaroor word reeds op Springer se webblad gedeel.

Is ek opgewonde? Ja beslis. Dit was ‘n ongelooflike leerskool om deur die fases te gaan, van ‘n voorstel wat aanvaar word, ‘n hoofstuk wat betyds moet in wees, die keuringsproses van die hoofstukke en die uiteindelike nuus dat dit aanvaar is en dat ek vorms moet teken om die regte aan die uitgewers oor te dra. Gee ek om om die vorms te teken?

Nee, ek doen nie. Dit was ‘n leerskool en ek weet nie eens of ek geld daarmee gaan maak nie. Indien wel, is dit ‘n aangename meevaller. Vir nou is dit ‘n blote leerskool. Ek verstaan die prosesse en kan dit dalk later oorweeg om ‘n boek op my eie aan te pak. Met mede-outeurs. Of selfs alleen.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Ons boek word amper vrygestel.

  1. Hierdie is groot, Christa. Baie geluk jong.

    Die link gaan jou vat na ñ bladsy waar die Towerinne iets vir jou oor hulself vertel.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.