Gepubliseer in Reisjoernaal

Koekbak is ‘n affêre in Qazaqstan

My kinders sal daarvan kan getuig, ek is nie ‘n koekbakster nie. Toe hulle klein was, het ek koekiesbakdae beperk.

Daai kombuis met meel en eierdoppe het my sommer gou laat vergeet van die lekker as die koekies eers gebak is. En natuurlik het hulle net die eerste ruk saamgebak, daarna moes ma klaar bak. En natuurlik die skoonmaak daarna. Die menger vol spatsels, die spane, als was vuil.

As ek moet bak, kan ek lekker koppiekoekies bak, met die hulp van Pillsbury se sjokoladekoekmengsel. Of die een met die klomp kleure in, confetti as ek reg onthou.

Die afgelope drie jaar bak ek makliker. Omdat Thermie, my Thermomix, so maklik meng. En ek net een vuil ding het. Haar mengbak. Sy weeg en knie en meng en doen alles in een. En haar ingeboude sjokoladekoek is maklik die lekkerste sjokolade koek wat daar is.

Maar ek het ook al vertel dat ek hier bak en brou. Omdat manlief baie opgeoffer het om Thermie hier te kry. Siestog, dan moet ek mos sorg dat dit die moeite werd was.

Nou bak ek elke vierde dag vetkoek en soms piesangbrood, gemmerkoekies, brood en karringmelkbeskuit. Laasgenoemde die eerste keer in my lewe probeer bak, heerlik uitgekom.

O ja, ons bak ook pannekoek. Die eerste keer vir nuwe Afrikaanse vriende hier gebak as nagereg toe hulle by ons kom eet het. Laas naweek met Mia-hulle gedeel en daar saam met tee geëet nadat ons twee gesinne apart aandete geniet het.

Maar, om dit reg te kry, moet mens die bestanddele gekoop kry. En dit is ‘n ding in Qazaqstan.

Eerste probleem is taal. Alles op alles is in Russies. Dus moet ek op Google Translate staatmaak om goed soos kaneel en gemmer te kan koop. En sy is nie altyd gewillig of hulpvaardig nie.

Die tweede probleem is die verpakkings. Baie van die bestanddele word in klein pakkies verkoop, soos wat ek ook al gewys het. Die klein pakkies maak dat ek sommer 10 op ‘n slag moet koop om ‘n paar teelepels vol te hê. Met mense wat die vraatsige vrou verstom aankyk. Ander bestanddele, soos gis, koop mens in kilogrampakke. Myne hou al drie maande, en dit lyk of ek dit nog nie begin gebruik het nie.

Derde probleem is dat sekere bestanddele nie hier te koop is nie. Soos goue stroop en vanilje essence. Google het egter gehelp om laasgenoemde probleem op te los. Hier is die resep. ‘n Paar pakkies vanilje poeier (ek het nie geweet dit is wit nie) opgelos in Vodka (ek het nie geweet vanilje essence het alkohol in nie) en die probleem is opgelos. Die geur is perfek, word al hoe lekkerder met verloop van tyd.

Die vierde probleem is dat mens die verkeerde meel kan koop. Ja toe, ek weet in Suid-Afrika kry mens koek- en broodmeel. En dat dit ‘n flop is as jy verkeerd koop. Hier kry mens meel met rooi geskryf op die sakke en meel met blou geskryf op die sakke. Die blou is eerste graad. As jy rooi koop, flop die koek.

Die vyfde probleem is dat daar ook ‘n verskil in die soorte meel is waarop in blou geskryf staan. Die rede weet ek nie omdat ek die vorige sakke weggegooi het. Het ek gesê dat mens die meel in baie groot sakke kan koop? Hierdie een bied sover die beste resultate.

Myka (uitgespreek as mooka) is meel. Ek koop sommer 5kg op ‘n slag. Hier is nie goggas wat in meel wil klim nie, dit hou mooi in ‘n plastiese houer.

Ek word ‘n plaastannie hier in die stad. Nie omdat ek niks het om te doen nie, eerder omdat nood leer bak.

Brood hou nie, dit is soms al reeds oud as ek dit koop. Dan bak ek maar vetkoek. Kyk hoe mooi rys die vetkoek wat met die nuwe soort meel gemaak is.

En binne lyk dit so:

My ma sal sommer lekker trots op my wees. Sy kan vetkoek bak en brood knie dat almal dit wil eet. Wou my leer, maar ek het verkies om nie te knie nie. Wou nie voorarms soos daai ou wat spinasie eet kry nie. Wat is sy naam nou weer? Popeye? Nie asof my ma sulke voorarms het nie. Dit was net my verskoning.

Net so in die loop van die gesprek. Die Kazakhs bak vetkoek, kan dit in die winkeltjie onder ons, Muken, koop. En dit is lekker. Het sommer iets nuuts by hulle geleer. As ek die maalvleis klaar reg en koud het, sit ek dit in die deeg van elke vetkoek voor ek dit bak. Dit is heerlik en die maalvleis val nie oral uit soos wanneer mens dit na die tyd in ‘n oopgesnyde vetkoek insit nie.

O ja, hulle het ook pannekoek. Kan dit selfs by straatstalletjies by feeste koop. Maar hulle eet dit nie met kaneel nie. Wel met heuning en room. En hulle heuning is heerlik. Blykbaar van die beste in die wêreld. Kan dit selfs in Dubai in sekere winkels by stalletjies koop.

Ek het eers die helfte van die vetkoekdeeg gevries, nou bak ek alles gelyk en dan vries ek die vetkoeke twee-twee. Haal dit in die oggend uit en teen middagete is hulle mooi ontdooi en proe dit asof dit so pas gebak is.

Hier is nie gemmerkoekies nie, en manlief is dan so lus daarvoor. Ook nie karringmelk beskuit nie. Hier is ook nie karringmelk nie, maar ek het goeie vervanging daarvoor ontdek. Sal in ‘n volgende plasing die resep gee.

Gesels asseblief in die kommentaar saam. Wat bak jy? Waarom? En watter resepte sal jy aanbeveel?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

28 gedagtes oor “Koekbak is ‘n affêre in Qazaqstan

  1. Hmmm, heerlike vetkoek met kerriemaalvleis – ons noem dit ‘n curry bunny. Nee, jammer Christa, ek is nie ‘n bakster nie, hoor? Ek bly liewer weg van ‘n stoof af. Ek het darem ‘n Russell Hobb broodbakker wat ook alles so lekker knie en ons bak so nou en dan brood, maar om eerlik te wees – hier by ons is goggatjies wat in die meel en alle ander bestanddele wil inklim. Ons moet al wat meel is in die vrieskas aanhou. Gelukkig is bakkerye volop hier rond.

    Like

      1. Ek is ook nie lief vir brand nie. Ons kook die Indiese kerries wat meer gemik is op geur en smaak – en dan gooi my kinders chillies in vir die ekstra brand. Ek hou van ‘n gematigde kerrie. Of ‘n soet geelkerrie soos waarmee die oumense altyd afval gekook het. Ek kook so nou en dan nog ‘n afvalpot.

        Like

      2. I have bought Curry powder here Christa, I think in ADK eiwers?
        I have never used it 🤦‍♀️
        Will give to you!

        Like

  2. Ai tog, sedert ek Bant, het bakkery met meel by die agterdeur uitgevlug. Ek het nog gereeld vir my man regte beskuit gebak, maar doen dit ook nie meer nie, ek ondersteun eerder my bakstervriendin.
    Ek het sommer altyd suurmelk gemaak ipv karringmelk. Karringmelk is natuurlik baie lekkerder.
    Vir suurmelk: 400 ml melk en 100 ml asyn dink ek.

    Like

          1. Ons het Jerseymelk direk uit die stal gebruik. Ekstra volroom. Ek dink nie mens moet laevetmelk gebruik nie, steeds volroom, selfs al is die volroom wat ons in die winkels koop ook afgeroomde melk.

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.