Gepubliseer in Reisjoernaal

Uitnodiging vir tee saam met Russiese buurvrou in Qazaqstan

In Qazaqstan is Engels ‘n vreemde verskynsel. Daarom praat ons hier Afrikaans en kry ek kyke op straat as ek Afrikaans praat. Omkyke. En weerkyke. Want dié taal ken hulle ook glad nie.

Toe ons Saterdag op die Kazakhstan koppie is om foto’s te neem, verkyk die drie Russe wat daar werk hulle aan ons. “Germanie?” vra die een toe. En ek antwoord beslis, “Net, Afriki” (Nee, Afrika).

Want ons het ook al hier gehoor dat Duitsers hier verdra word – tot Victory Day, wanneer hulle die oorwinning oor Duitsland in Kazakhstan vier. Dan moet Duitsers blykbaar liewer tuis bly. Want hier word dié oorwinning ‘n week lank gevier. Ons twee is alleen op die koppie saam met drie werksmense – en ek maak maar seker hulle verstaan ek is nie ‘n Duitser nie. Al is Victory Day so drie weke gelede reeds gevier …

Dit laat my ook aan ons ervaring in Duitsland dink. In 2013. Die Duitsers se vergrype teen die Jode is algemeen bekend. En dit is ook nie so lank gelede nie. Toe manlief en ek in ‘n klein parfuumwinkeltjie Afrikaans praat, vra die vrou of ons Jode is. Genugtig, nee! Hier moes ons ook vinnig reghelp. In Duitsland wil ons ook nie verkeerdelik vir Jode aangesien word nie.

Maar ek brei al weer te veel uit, kom nou tot die punt.

Ek het al vertel van die oompie wat my by die hysbak probeer bevriend het. Al verstaan ons mekaar nie. Hulle bly in een van die ses woonstelle op ons vloer.

Sondag, toe ons terugkom, kom sy vrou by hulle deur uit. Alhoewel ons net ses woonstelle op die vloer het, het ek ons bure nog selde gesien. Ek weet net niemand gaan my sommer verstaan nie. Hulle praat Russies en Kazakh. Dus is ek dankbaar as ek niemand raakloop nie.

Sy kom uitgestap en sê vir ons “Zdraztvitje” (hallo).

Manlief stap vinniger tot by die woonsteldeur. Ek stop en sê dieselfde en nie my gewone Hallo nie. Ek moet begin oefen, en dit is die geleentheid. Ek stap egter ook vinniger, my kennis van Russies is beperk.

Sy glimlag en sê: “Kak dielah?” Ek weet, dit klink rof. My mond wou die woord lank nie uiter nie. Sy vloek my darem nie, sy vra net hoe dit gaan. Die rowwe Afrikaanse woord beteken hoe in Russies.

My tor begin waarsku, ek wou mos kyk en luister! Wat antwoord mens nou weer? O ja, manlief se gunsteling! Verlig dat ek kan antwoord sê ek: “Garasjô!” (Goed) En glimlag dankbaar dat die tor onthou het.

Sy glimlag ook en antwoord iets in Russies. Ek weet dit beteken dat sy bly is en ek wil begin hardloop. Die tor vertel my ek moes al, hier gaan ‘n gesprek volg. En my kennis verder is zilts.

Dan wankel die tor minder en herinner my daaraan dat ek nog twee woorde ken wat my minder ongeskik kan maak. Ek kan vra hoe dit met haar gaan.

“Ah waas?” (en met jou?) vra ek en toe weet ek. Nou is ek in die knyp. Sy het ‘n legioen woorde wat sy kan gebruik. Vir alle variansies van baie goed tot baie sleg. En ek onthou dit nie!

Ek weet net dat ek een keer oulik probeer wees het toe my een keer per week teacher my die eerste drie weke probeer taalreëls leer het. Ek het geantwoord: “plagha” (dit gaan sleg) en haar gesig het verkrummel en sy het simpatiek gewaarom?

Ek was met stomheid geslaan en sy het verduidelik. As ek sê dit gaan sleg, moet ek weet dat hulle gaan vra waarom. Om te simpatiseer. En ek gaan die woorde moet ken om te verduidelik.

En as sy nou daai woord gebruik, gaan ek moet vra waarom. En verstaan waarom. Ek stap agteruit na my woonsteldeur toe, waar manlief wag dat ek inkom. Hy het klaar oopgesluit. Lankal die hasepad gevat.

Sy antwoord genadiglik dat dit ook goed gaan. Verbaas oor my kennis van Russies. Ja, toe, dit is ‘n paar woorde, maar ek klink blykbaar soos ‘n Rus omdat ek die woorde reg uitspreek.

Ons Boere r net so lekker soos hulle. En ons a en k en m en t en p klink dieselfde.

Ek glimlag dat ek bly is, dankbaar dat ek nog twee woorde reg gebruik het. En sy praat verder. Ek verstaan net die hand wat na haar woonstel wys en Chai (tee).

Ek sê Spasiba (dankie), wys met my duim na bo dat ek so sal maak en waai koebaai. Sy het my vir tee genooi. Wanneer? Ek het geen idee nie, sal een oggend klop en gaan tee drink.

Voor dan moet ek ‘n paar sinne leer. Sinne soos ek ken net ‘n paar woorde, maar ek sal probeer verstaan. Ek sal darem kan sê dat ek nie melk drink nie (moloko uitgespreek as malako) en ook nie suiker nie (saghar).

Vir die res sal ek moet dink watter sinne ek kan sê. Maar veral oor wat sy daarop kan antwoord. Anders is dit geen gesprek nie.

O ja, ek het ook gedink dat ek haar moet vra om my te leer om Russies te praat. Ek wil nie die taalreëls ken nie, ek wil nie taaltoetse slaag nie, ek wil verstaan word en verstaan. Om met mense te kan gesels.

Die Russe lyk maar nors op straat, maar as hulle jou nader trek is hulle gawe mense. Gasvry. My soort mense.

Ek ken darem die tradisie van teedrink hier in Qazaqstan. Wonder of dit so gaan wees? Twee koppies sonder ore wat my al in ‘n verleentheid gebring het. Ek vertel gou.

Manlief se Russiese tolk is mos saam Almaty toe om saam terug te ry en ons op te pas. Hy verduidelik mooi vir my oor die teedrinkery in die koppies sonder ore. Dit word halfvol geskink om te keer dat die tee te gou koud word. En om aan te dui dat die gas langer kan kuier. Of vol, om aan te dui dat hy of sy moet gaan.

Die aand eet ons by tradisionele eetplek in een van die dorpies op die pad. Manlief is badkamer toe en die twee Kazakhs het gaan rook toe die slaai aankom, met vier ronde bakkies.

Ek is doodhonger of dalk verveeld en skep slaai in die “slaaibakkies” toe die kelnerin met ‘n teepot aankom wat net soos die bakkies lyk. Fyn versier. En ek besef my fatale fout. Ek het slaai in my teekoppie geskep.

Voor ek iets kon doen, kom die drie saam by die tafel aan. Ruslan gee ‘n kyk van ek het verduidelik en gaan sit met ‘n uitdrukking van mens kan haar mooi aantrek maar nêrens heen vat nie.

Maar manlief is nie so nie. Hy kan mos sien ek voel verleë, maar moet ook nog vra waarom ek dit gedoen het. Ek kry toe ‘n tweede koppie en skink ingedagte my koppie vol en besef weer te laat dat ek die tradisie verbreek het.

Manlief is dadelik weer reg met waarom doen jy dit. Verdomd. In ons land doen ons dit. Ek skink altyd my koppies vol. Maar ek is reg met ‘n antwoord. Wys dit nie dat ek moeg gekuier is en wil gaan slaap nie? Het ek verkeerd verstaan? En my oë waarsku dat hy nie verder moet vra nie …

Nou wonder ek: Gaan ek tradisionele teedrinkery beleef? Ek weet darem nou dat sy nie suinig is as sy vir my ‘n koppie halfvol tee gaan aanbied nie! Sy sê dat sy lekker kuier …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

38 gedagtes oor “Uitnodiging vir tee saam met Russiese buurvrou in Qazaqstan

  1. Ma sê sy dink dit is baie hartseer dat mense so teen ‘n taal kan wees. Sy het grootgeword in ‘n huis waar daar Engels en Afrikaans gepraat word en sy is bly dit het haar tweetalig gemaak. Sy sê as my twee mensboeties ook nie Engels kon praat nie, sou hulle nie werk kon gekry het in die klein landjie van ons nie.

    Sy sê as mense nie met haar wil praat omdat sy Engels praat nie, dan moet hulle maar verbyhou. Sy sê daai Duitsers en Franse het nog nie gesien hoe ongeskik sy kan raak nie. Hulle kan maar bly wees sy was nie daar nie. Sy hou glad nie van sulke mense nie.

    Sy ken gelukkig baie boeremense wat nie omgee as sy Engels praat nie. Op my blog praat ons Engels, al is ons huistaal Afrikaans, maar ek het maaitjies wat net Engels praat en verstaan wat kom kuier, so ek kan nie ongeskik wees en net Afrikaans praat nie.

    Russies klink na ‘n heerlike taal om te praat. Ons hoop jy geniet die tee en om dit te leer. 🙂

    Like

    1. Jong, Rambo, jy sal nie verstaan nie. Ma
      hoef nie bekommerd te wees nie, sy moet net onthou dat my taal tans erg onderdruk word.
      So erg dat die beste sangers nie die pryse kry by die Ghoemas nie. En dit maak dat ek my taal beskerm. En hier in Rusland praat en uitbou eerder as Engels.
      Ek is goed met Engels en gesels hier met almal in Engels omdat hulle nie Afrikaans verstaan nie. En ek skryf ook akademiese artikels is Engels, die tweede een is amper klaar.
      Ek geniet dit om Engels te praat, en het baie Engelse vriende, dus sal ek en ma lekker kan gesels. Ek kan ook Duits en Zoeloe praat, die Zoeloe het so bietjie verroes met tyd. En ek ken van Fanaghalo. Ek is lief vir tale. Maar as myne bedreig word, staan al my hare in die lug. Dan wil ek haar beskerm. Met alles wat ek het ❤️❤️

      Liked by 1 person

      1. Ma sê sy verstaan maar dis nie net die taal nie, dis die mense ook maar ons almal kry swaar, maak nie saak watse taal ons praat nie. Maar sy sê jou hart moet nie seer wees nie. Maak nie saak wat enigeen doen nie, ons taal bly ons taal en dit sal nooit verander nie. 🙂

        Ma sê wat vir haar so mooi is, is die feit dat hier van die Zulumense is wat maar geleer het om Engels of Afrikaans te praat net sodat ons mekaar kan verstaan.

        Ma sal ook niks sê van party van die Afrikaanse sangers nie, maar sy is lief vir Nadine, Mathys, Kurt en Dozi en baie ander wat ordentlik afrikaans kan sing en nie klink asof hul dronk sit in een of ander kroeg nie. Daai musiek kan sy nie hanteer nie. 😀

        Like

        1. Lag ek nou lekker. Daai musiek hou ek ook nie van nie. Maar ek kan ure na Steve luister, elke liedjie klink anders. Ek hou nie daarvan as ek na ‘n ruk dink dat ek dieselfde liedjie oor en oor luister nie. Net met ander woorde.
          Ek leer darem Russies, gaan makliker wees om hulle taal te praat as om hulle te leer Afrikaans praat!

          Like

          1. Ma en Pa ken vir Steve maar ma hou nie van hom nie en ook nie sy musiek nie, maar sy sê gelukkig het ons almal verskillende smaak. 🙂

            Ek en Ma sien jy het jou pos verander en van die woorde uitgehaal waarvan ons gepraat het. Dis maar miskien beter so, dan raak ander mense ook nie hartseer nie. 🙂

            Ek en Ma stem saam. Soos die gesegde sê: When in Rome, do as the Romans do en in julle geval doen jul soos die Russe doen en hul taal klink so mooi en baie interessant. Jy is baie slim so jy sal gou leer. 🙂

            Like

  2. Toemaar, ek verstaan baie en Ma sê sy is darem nie bekommerd nie. Sy kan net nie verstaan hoekom die mense so is oor die tale nie. Engels is ‘n baie mooi taal en so is Frans, Duits, Russies, ens. Ma sê sy sal dit geniet om al die tale te praat maar sy vergeet te gou. 😀

    Dis mooi dat jy ook Engels praat, maar jy klink kwaad vir dit, maar ek is bly as jy nie is nie. Ons almal hier is Afrikaans maar soos jy weet is Natal maar Engels, so ons praat maar Engels met die mense wat dit praat. En soos ek gesê het, my blog het vriende wat ook net Engels praat en ma sê ek gaan heeldag sit en tik as ek my blog tweetalig wil maak, en dan is daar tyd vir niks anders nie.

    Tale is baie mooi. Ma sê sy sal graag Frans wil praat want dis so mooi taal. Jy sal een van die dae lekker Russies kan praat, dan kan jy ons ook leer. 🙂

    Like

  3. Christa, ek is so bly om saam met jou hierdie anderland avontuur te beleef. Ek moet bely, nuwe taal en daai koue- ek karring dan liewer hier in omgekrapte SA aan (dink dit het met ouderdom te make). Ek bewonder julle moed en dankie dat jy so lekker jou belewenis met ons deel. Kan nie wag om te hoor hoe die tee verloop het nie!

    Like

    1. Dankie vuurvliegie. Soos my man sê, ons kan dit doen omdat daar ‘n begin en einddatum is. Ek dink koue gaan wil wees … en die taal moet maar net geleer word. Al praat ek soos baba in een woord sinne

      Like

  4. Ja nee….hier gaan nog ‘n hele paar interessante woorde uitkom, soos daai een van hoe dit gaan? Laat my dink aan die woord “vuur” in Roemeens. Dis “voc”. As ons al hierdie interessante woorde wat ons as skelwoorde gebruik in een sin, sal dit klink asof ons net lelik praat! Tale is ‘n wonderlike ding. Wens ek het met gefokus daarop toe ek jonger was.

    Like

      1. Ek glo jy sal vinnig die regte woorde vir ‘n lkeer kuier aanleer….maar as jy gaan tee drink, geniet dit. Dink net hoe verryk jy daardie ou tannie se lewe!

        Like

          1. Kinders is ‘n veilige onderwerp…en mens het ALTYD fotos van kinders en kleinkinders!

            Like

      1. Onbeskof!! Haha…dis die regte beskrywing daarvoor. Kan jy jou voorstel hoe ons pastoorsvriend gevoel het wat in Roemenie ‘n uitreik gaan doen het en die Roemeense predikant vertel hom van hierdie droom wat hy gehad het oor ‘n groot vuur wat oor Roemenie woed….die prediaknt is doodernstig en ons vriend moet sy pose hou om nie uit te bars van die lag nie….oor die woordjie vuur….

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.