Gepubliseer in Reisjoernaal

Vriendskap in Qazaqstan

Ek was reeds in die kooi, maar kon nie slaap nie omdat ek ‘stress’ oor ‘n toe-oog afspraak met ‘n ander Suid-Afrikaanse vrou. En ek kon myself blameer, ek wat maklik ‘n kluisenaar kan word, het myself in hierdie situasie ingekry. Dit het so gebeur.

Ek en manlief is verlede Sondag na ons een gunsteling winkel, Kamfort toe.

Dit laat my nogal aan Builders dink, maar mens kan beddegoed en so aan ook daar koop. Baie kleiner, maar beslis doeltreffend. Ons het die gom vir my skoene ook daar gekry.

O ja, ek het nog nie van die skoene vertel nie. Manlief het vir my sulke oulike kousagtige wit tekkies gekoop.

Dit voel soos kaalvoetloop wanneer ek hulle aanhet. Maar wit is nie ‘n goeie keuse nie omdat die strate soort van vuil is. Nie vuil soos Suid-Afrikaans vuil met papiere en gemors wat gestrooi word nie. Net swart stof wat nie met wit skoen wil saamwerk nie.

Volgens manlief kon ek die skoene was en ek besluit toe om sommer ook Vanish te gebruik om die kolletjies uit te kry. In totale verstomming staan ek later die middag toe die skoene uit die wasmasjien kom met losgetrekte sole. Ek het regtig nie verwag dat die Vanish die gom van die skoene sou laat verdamp nie. Soos mis voor die son. Met geen spoor dat dit ooit vasgeplak was nie. Dus staan ons twee in die winkel om gom vir my skoene te koop, nadat manlief nogal beïndruk was met die werksgehalte van vanish!

Ons het oor die gom gepraat, my man gebukkend by die onderste rak en ek wat agter hom staan. Toe hoor ons agter ons: “Praat julle Afrikaans?”

Toe ek omdraai, staan ‘n jong man en sy langhaardogtertjie agter ons. En ons begin gesels. Asof ons mekaar ken. Omdat ons Afrikaans kan praat. En kom so in die praat agter dat ons soveel in gemeen, al kon hy ons kind wees.

Hy het mynbou-ingenieurswese aan Tuks geswot. My man ook. Sy vrou is ‘n onderwyseres, en toe lag ek te lekker. Dit is iets waaroor ons almal lag, want om een of ander rede is bykans al die mynbou-ingeneurs wat saam met my man, voor hom en na hom, aan Tuks gestudeer het, met onderwyseresse getroud.

Ronnie Weber en Hugo Grobler was saam met hom, Dana Roets na hom en Martin Pretorius voor hom. Ek wonder nog altyd hoe dit gebeur, want die Opvoedkunde gebou was, toe ek nog aan Tuks gestudeer het, ver van die Ingenieursgebou. Tans is dit op ‘n ander kampus, Groenkloof. Ons twee het by jool ontmoet. Dit is anderdag se storie.

En nou was Angel uitgespreek soos in Engels, ook met ‘n onderwyseres getroud. Ons twee het dus iets in gemeen! Hy werk egter vir die kompetisie.

En … hulle bly in selfde straat, amper langs ons. In Qazaqstan het die geboue nie name nie, net ‘n straatadres. En hulle moet dringend ‘n nuwe blyplek kry.

Ek kry dadelik jammer en por toe sommer ook ewe voor op die wa vir manlief aan om telefoonnommers uit te ruil sodat ons kan help soek en een dag saam kan uitgaan.

Op pad huis toe is ek sommer vies dat ek so voortvarend kon wees. Ons ken die mense van geen kant nie. Hulle is baie jonger as ons. En … sy is met ‘n Afrikaanssprekende Bulgaar getroud, maar praat Engels. Dus sou ek al my woordeskat eers op my tong moes rol, terwyl sy gemaklik in haar taal praat. In die stilligheid besluit ek om my man nie aan te moedig om te gou ‘n ontmoeting te reël nie.

Maar Mia het anders besluit. ‘n Dag later kry ek vinnig na mekaar drie boodskappe, twee van my man af en een van haar. Ek lees eers die aangestuurde boodskap waarin Mia skryf dat hy my nommer met haar moet deel, toe nog een wat sê dat sy my gaan kontak, hy het klaar my nommer gedeel en toe een van Mia af. Sy is so bly dat daar nog ‘n Suid-Afrikaner in Öskemen is en wil graag saam met my gaan koffie drink. Vrydag. Watter tyd pas my? Waar wil ek heen gaan?

Vrydae gaan manlief myn toe, dus is my dag oop. Enige tyd pas my. Gedagtig aan die feit dat ons te voet moet gaan en dat sy ‘n dogtertjie en ‘n baba het, kies ek toe my gunsteling restaurantjie op die oewer van die rivier wat die lekkerste tees maak. En ook koffie kan maak. Maar gemaklik met kinders gaan wees.

Ek skryf dat hulle heerlike tee maak en sy is opgewonde en dui met blommetjies aan dat sy ook baie van tee hou.

Ons maak die afspraak en die benoudheid knaag. Vrydagoggend oorweeg ek om te kanselleer. My sus se portfolio moet in, sy gaan laaste oomblik vrae hê en dan moet ek gou help voor sy te veel stres. Dit is goeie verskoning?

Maar ek haat dit met ‘n passie as ander afsprake op die laaste oomblik kanselleer, dus trek ek aan, maak my hare mooi en gaan. Die stap doen my goed en ek is al lekker lus vir kuier toe ek by die eetplekkie opdaag.

Hierdie hotel het drie, ek hou meeste van die een op die eerste vloer (ons grondvloer). Ek bel en sy is amper daar, en ek hou sommer klaar baie van haar. Net juffrouens is so betyds, ons altwee is 10 minute vroeg.

Ek moes toe Engels praat, sy sukkel met Afrikaans en ek is goed met Engels. Volgens haar kuier sy die lekkerste met my. Met ander dames hier moet sy woorde tel omdat hulle Engels baie beperk is!

Ek stel tee voor, kies van aparte menu en kry weereens die verrassing van my lewe. Die goed proe soos wyn. En sowaar! Toe ons die menu met Google Translate vertaal het ons twee se tee, voor middagete wit en rooi wyn in!

Ons lag lekker, ek verleë omdat ek dit voorgestel het en ons kies elk ‘n lekker bord kos en nog ‘n tee om die wyn te verdun. En ons is so verras dat ons kos SAAM bedie word dat ek ‘n foto neem:

Hare

En myne.

En ek is dankbaar dat ek uit my gemaksone beweeg het. Hierdie jong ma van twee gaan beslis ‘n vriendin in die vreemde word.

Vanoggend kry ek boodskap dat ek Dinsdagaand saam met haar en ander Suid-Afrikaanse vrouens moet gaan eet. Of ek dit gaan doen, is ‘n ope vraag …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

13 gedagtes oor “Vriendskap in Qazaqstan

  1. Nou glimlag ek weer vir jou. Snaaks hoe party van ons nie altyd seker is of ons nuwe mense wil ontmoet nie. Gelukkig ‘dwing’ Bertus my in situasies in, soos om dadelik ja te sê vir afsprake, en nadat ek dan so op my eis my vreeslik gewip het, geniet ek dit altyd. Ek glo jou nuwe vriendskap gaan goed wees vir jou.🌺🌺

    Like

  2. So vanaand is die aand! Gisteraand word ek by ‘n groepie vir Suid-Afrikaners gevoeg. Die girls wat ek vanaand gaan ontmoet. En hulle lyk inderdaad aangenaam. Een wil my omtmoet omdat ek Afrikaanssprekend is! Dankbaar!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.