Gepubliseer in Joernaal

Qazaqstan: Land van tee!

Amper twee jaar gelede het ek begin siek word. Moegheid, tamheid, duiseligheid en ‘n maag wat haar nie laat keer nie. Ek het ons medies in ‘n paar weke uitgeput, maar die oorsaak vir die probleem kon nie gevind word nie. En toe besluit ek om op dr. Google staat te maak om die oorsaak vir die probleem te vind. Wat op die ou einde uit meer as een probleem bestaan het. Maar daarop neerkom dat wat by my mond ingaan die oorsaak vir my probleme is.

Om die probleem te kon opspoor, het ek sekere goed wat mens se maag omkrap uit my dieet gesny. Een vir een. Om die probleemkind op te spoor. Ons is so tien jaar gelede deur ‘n Britse maatskappy getoets en die uitslae het getoon dat ek onder andere laktose-intolerant is. Die ander probleemkos is ‘n pekanneute en sonneblomme (wat sonneblomolie insluit) en eiers. Kos wat nog al die jare deel van my dieet was. Dus het ek eers alles uitgelaat en beter begin voel. Sodra ek hulle een vir een teruggesit het, was die probleem terug. ‘n Maag wat haar nie laat keer nie: eiers, pekanneute, gis, melk. Uit moedeloosheid het ek die melk gelos en swart koffie gedrink. Ongelukkig is dit so sleg dat ek maar besluit het om koffie ook te los.

Ek, wat slegs koffie bestel het as ons uitgegaan het. Wat daarvoor bekend was dat ek tot 8 koppies koffie per dag kon drink. Met genoeg melk daarin. Ek wat op ‘n plaas grootgeword het en soggens gou by die melkkraal langs gestap het op pad skool toe om warm melk te drink. Ek onthou nou nog die lekker van die skuim om my mond terwyl ek die bekertjie gou leeggedrink het om verder testap grootpad toe om die bus te vang. Ek wat niks van tee gehou het nie, maar myself tydens my twee swangerskappe oortuig het dat ek ‘n ‘craving’ vir rooibostee het, om te verhoed dat ek ander ‘cravings’ kry. Ek wat op drie van die vier soorte probleemkos grootgeword het.

En so met die los van die melk en die swart koffie, het ‘n ander probleem verdwyn. Die duiseligheid. Dit was altyd vir my vreemd dat ek soggens uitgerus opstaan en dan later die oggend so duiselig is dat ek nie kan regop staan nie. Dus het koffie van my te doen lys verdwyn. Hier is Qazaqstan is koffie nie so gewild soos in Suid-Afrika nie. Hier is tee gewild. En ek is juis die afgelope twee jaar ‘n tee-drinker!

Hier is tradisies met tee, verduidelik die een Russiese jong man die naweek op die pad van Almaty vir my. Ongelukkig luister ek met ‘n halwe oor en stel myself later die dag in ‘n groot verleentheid. Die koppies lyk soos sopbakkies, met geen ore en mens skink die koppies half vol.

Hier is die keuses met betrekking tot tee onbeperk. So voel dit. Warm tee met vrugtestukkies in wat met ‘n strooitjie gedrink word sorg nogal vir ‘n onverwagte kolletjie brand op die tong. Koue tee is besonder lekker. En dan is daar Qazaqstan tee wat ek nie mag drink nie. My bestelling is sommer nou die dag summier gestop en verander toe die Russiese vrou in die gesprek hoor ek bestel dit. Ek wou nog verontwaardig raak, toe verduidelik sy dat dit met melk gemaak word. Sy moes my vroeer die dag help om vir die Russiese dokter te verduidelik dat ek dringend ‘n pil nodig het wat ‘n maag stop. Myne was mooi netjies in my tas by die hotel.

Daar is twee redes vir die halfvol koppies. Eerstens word die tee te gou koed en bly dit warm in die pot. Tweedens sê dit vir die gas dat hy half onwelkom is en vinnig moet drink om te loop! Ek voel egter dat die tee so juis gouer kouer word.

So sit ons later die aand in ‘n tradisionele restaurant en Ruslan bestel vir ons tee. Hy en Natalya is uit om te rook, manlief is gou toilet toe en ek is alleen by die tafel toe ‘n bak slaai en die teekoppies by die tafel aankom. Aangesien dit soos sopbakkies lyk, skep ek vir my slaai in die een koppie. Die oomblik toe die kelnerin die teepot bring wat presies soos die koppies lyk, besef ek my fout. Maar dit was te laat! Manlief en die twee Russe wat my probeer leer is reeds terug by die tafel! Later gooi ek vir my man en myself tee in en maak die koppies oudergewoonte vol. Net om baie skeef aangekyk te word. Ek grap toe maar met ja, ons is moeg en ek jaag manlief net aan. Maar ek kon in die aarde insak.

Sakkies tee is besonder lekker. Daar is geure waaruit gekies kan word: Druiwe, vrugte, aarbeie, mojito groentee met gemmer en suurlemoen, sitrus en nog baie soort wat ek so met verloop van tyd gaan uittoets. Dit is so lekker dat ek so pas besluit het om elke dag genoeg tee te drink eerder as om koeldranke in die huis aan te hou.

Wat ek eintlik seker so tussen die lyne skryf, is dat ek Qazaqstan al hoe meer geniet. Land van uiterstes, land van teedrinkers!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Qazaqstan: Land van tee!

  1. Jou lewe daar fassineer my ongelooflik! Al die ontdekkings…en hoe jou horisonne verdreed…dis net so lekker om als te lees. Hoop jy bind als eendag saam in n boek

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.